I KONINGS 10

Die koningin van Skeba kom Salomo besoek.

1 EN toe diekoningin vanSkeba die gerug van Salomo hoor in verband met die Naam van dieHere, het sy gekom om hom metraaisels op die proef te stel.

2 En sy het na Jerusalem gekom met ’n baie groot trek, met kamele wat speserye en ’n menigte goud en edelgesteentes dra; en toe sy by Salomo inkom, het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was.

3 En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie.

4 Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het,

5 en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke ensy trap waarmee hy opklim in die huis van dieHere, was daar in haar geen gees meer nie.

6 Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid;

7 en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het.

8 Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan, wat u wysheid hoor.

9 Geloofd sy dieHereu God wat behae in u gehad het om u op die troon van Israel te laat sit!Omdat dieHereIsrael vir ewig liefhet, het Hy u as koning aangestelom reg en geregtigheid te doen.

10 Verderhet sy aan die koning honderd-en-twintig talente goud en ’n groot menigte speserye en edelgesteentes gegee; daar het nooit weer so ’n menigte speserye ingekom as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie.

11 Maar ook die skepe van Hiram wat goud uitOfir gaan haal het, het uit Ofir ’n groot menigte sandelhout en edelgesteentes gebring.

12 En van die sandelhout het die koning trapleunings gemaak vir die huis van dieHereen die huis van die koning, en siters en harpe vir die sangers; so het daar geen sandelhout ingekom en is daar nie gesien tot vandag toe nie.

13 En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee wat sy gevra het, bo wat hy haar na die vermoë van koning Salomo gegee het. Daarop het sy omgedraai en na haar land getrek, sy en haar dienaars.

Rykdom, weelde en roem van Salomo.

14 EN die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was seshonderd-ses-en-sestig talente goud,

15 behalwe wat ingekom het vandie koopmans wat rondtrek, en van die wins van die handelaars en van al die konings van die gemengde bevolking en van die goewerneurs van die land.

16 En koning Salomo het tweehonderd groot skilde van geslae goud gemaak; seshonderd sikkels goud het hy op elke groot skild gebruik;

17 en driehonderd kleinskilde van geslae goud;drie mines goud het hy op elke klein skild gebruik, en die koning het dit indie huis van die Líbanon-bos gesit.

18 Verder het die koning ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19 Die troon het ses trappe gehad, en die kopstuk van die troon was van agter rond, en aan weerskante was trapleunings by die sitplek, terwyl twee leeus langs die leunings staan.

20 Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan; so iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie.

21 En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie.

22 Want die koning hetTarsis-skepe op die see gehad by die skepe van Hiram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue.

23 So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid.

24 En die hele wêreld het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het,

25 terwyl elkeen van hulle sygeskenk saambring: silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere en wapens en speserye, perde en muile, jaar vir jaar.

26 Verder het Salomo strydwaens en perderuiters versamel, sodat hyveertienhonderd waens en twaalfduisend perderuiters gehad het; en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.

27 Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.

28 En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte en uit Kwé; handelaars van die koning het dit uit Kwé gaan haal teen koopprys.

29 En ’n wa het uit Egipte opgekom, en dit is verkoop vir seshonderdsikkelssilwer, en ’n perd vir honderd-en-vyftig; en so is dit vir al die konings van dieHetiete en vir die konings van Aram deur hulle uitgevoer.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

three × two =