MARKUS 15

Jesus voor Pilatus.

1 ENdadelik, vroeg in die môre, het die owerpriesters saam met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele Raad ’n besluit geneem; en nadat hulle Jesus geboei het, het hulleHom weggelei en aan Pilatus oorgelewer.

2 En Pilatus het Hom gevra: Is U die Koning van die Jode? En Hy het geantwoord en vir hom gesê: U sê dit.

3 En die owerpriesters het baie beskuldiginge teen Hom ingebring.

4 En Pilatus het Hom weer gevra en gesê: Antwoord U niks nie? Kyk hoe baie getuienisse hulle teen U inbring.

5 Maar Jesus het niks meer geantwoord nie, sodat Pilatus hom verwonder het.

6 En op die fees was hy gewoond om een gevangene, die een wat hulle gevra het, vir hulle los te laat.

7 En daar was ’n sekere Barábbas wat met mede-oproermakers in die gevangenis was; en hulle het in die opstand ’n moord begaan.

8 En die skare het geskreeu en begin vra dat hy vir hulle sou doen soos altyd.

9 Toe antwoord Pilatus en sê vir hulle: Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?

10 Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit nydigheid oorgelewer het.

11 Maar die owerpriesters het die skare aangehits dat hy liewer Barábbas vir hulle moes loslaat.

12 Toe antwoord Pilatus weer en sê vir hulle: Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle Koning van die Jode noem?

13 En hulle skreeu weer: Kruisig Hom!

14 Maar Pilatus sê vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Hulle skreeu toe nog harder: Kruisig Hom!

15 En omdat Pilatus aan die skare hulle sin wou gee, het hy Barábbas vir hulle losgelaat; en nadat hy Jesus laat gésel het, het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word.

16 Toe lei die soldate Hom wegin die binneplaas, dit is die goewerneur se paleis, en hulle roep die hele leërafdeling bymekaar

17 en trek Hom ’n purperkleed aan en vleg ’n kroon van dorings en sit dit vir Hom op;

18 en hulle begin Hom begroet: Wees gegroet, Koning van die Jode!

19 En hulle slaan Hom met ’n riet op die hoof en spuug op Hom en val op die knieë en bring Hom hulde.

20 En toe hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die purperkleed uit en trek Hom sy eie klere aan; en hulle lei Hom weg om Hom te kruisig.

Die kruisiging.

21 EN hulle het ’n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, die vader van Alexander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra.

22 En hulle het Hom gebringop die plek Gólgota, dit is, as dit vertaal word: Plek van die Hoofskedel.

23 Toe gee hulle Hom wyn met mirre gemeng om te drink, maar Hy het dit nie geneem nie.

24 En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry.

25 En dit wasdie derde uur toe hulle Hom gekruisig het.

26 En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.

27 Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter- en een aan sy linkerkant.

28 En die Skrif is vervul wat sê:En Hy is by die misdadigers gereken.

29 En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou,

30 verlos Uself en kom af van die kruis!

31 En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.

32 Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

33 En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe.

34 En die negende uur het Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken:My God, my God, waarom het U My verlaat?

35 En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía.

36 Toe hardloop een en maak ’n spons vol asyn en sit dit op ’n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal.

37 Maar Jesus het met ’n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.

38 En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.

39 En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan,sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God.

40 En daar was ook vroue wat van ver af dit aanskou het. Onder hulle was Maria Magdaléna ook, en Maria, die moeder van Jakobus, die kleine, en van Joses, enSalóme —

41 hulle wat Hom gevolg en Hom gedien het toe Hy in Galiléa was — en baie ander vroue wat saam met Hom opgegaan het na Jerusalem.

Die begrafnis.

42 EN toe dit aand geword het, omdat dit dievoorbereiding was, dit is die voorsabbat,

43 kom daar ’n vernameraadslid, Josef van Arimathéa,wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44 En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy hetdie hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was.

45 En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk.

46 En hy het linne gekoop, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in ’n graf wat in ’n rots uitgekap was. En hy het ’n steen teen die opening van die graf gerol.

47 En Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Joses,het gesien waar Hy neergelê word.

MARKUS 16

Die opstanding.

1 ENtoe die sabbat verby was, hetMaria Magdaléna enMaria, die moeder van Jakobus, enSalómespeserye gekoop om Hom te gaan salf.

2 En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf.

3 En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?

4 En toe hulle opkyk, sien hulle datdie steen weggerol was, want dit was baie groot.

5 En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle’n jongman, met ’n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.

6 En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.

7 Maar gaan sê vir sy dissipels en virPetrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.

8 Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp.En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.

Verskyning van Jesus ná sy opstanding.

9 EN nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna,uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het.

10 Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom gewees het, terwyl hulle treur en ween.

11 En toe hulle hoor dat Hy lewe en deur haar gesien is,het hulle dit nie geglo nie.

12 En hierna het Hy in ’n ander gedaante verskynaan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld.

13 Hulle het ook gegaan en dit aan die ander vertel,maar dié het hulle ook nie geglo nie.

14 Laterhet Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het,nie geglo het nie.

15 En Hy het vir hulle gesê:Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

16 Hy wat glo enhom laat doop, sal gered word; maarhy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

17 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg:in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, metnuwe tale sal hulle spreek,

18 slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie;op siekes sal hulledie hande lê, en hulle sal gesond word.

19 Nadat die Here dan met hulle gespreek het,is Hy opgeneem in die hemel en het gaansit aan die regterhand van God.

20 Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deurdie tekens wat daarop gevolg het. Amen.

MATTHÉÜS 1

Afkoms van Jesus Christus na die vlees.

1 DIEgeslagsregister van Jesus Christus,die seun van Dawid,die seun van Abraham:

2 Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda en sy broers;

3 en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, en Peres was die vader van Hesron, en Hesron die vader van Ram,

4 en Ram die vader van Ammínadab, en Ammínadab die vader van Nagson, en Nagson die vader van Salmon,

5 en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Ísai,

6 enÍsai die vader van koningDawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría,

7 enSalomo die vader van Rehábeam, en Rehábeam die vader van Abía, en Abía die vader van Asa,

8 en Asa die vader van Jósafat, en Jósafat die vader van Joram, en Joram die vader van Ussía,

9 en Ussía die vader van Jotam, en Jotam die vader van Agas, en Agas die vader van Hiskía,

10 en Hiskía die vader van Manasse, en Manasse die vader van Amon, en Amon die vader van Josía,

11 en Josía die vader van Jegónia en sy broers in die tyd vandie Babiloniese ballingskap.

12 En ná die Babiloniese ballingskap hetJegónia die vader geword van Seáltiël, en Seáltiël was die vader van Serubbábel,

13 en Serubbábel die vader van Abíud, en Abíud die vader van Éljakim, en Éljakim die vader van Asor,

14 en Asor die vader van Sadok, en Sadok die vader van Agim, en Agim die vader van Elíud,

15 en Elíud die vader van Eleásar, en Eleásar die vader van Mattan, en Mattan die vader van Jakob,

16 en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.

17 Al die geslagte dan van Abraham tot Dawid is veertien geslagte, en van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en van die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.

Geboorte van Jesus Christus.

18 DIE geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevinduit die Heilige Gees.

19 En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwilligom haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.

20 Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Herein ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;

21 en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit isHy wat sy volkvan hulle sondes sal verlos.

22 En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:

23 Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

24 En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem;

25 en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.

MATTHÉÜS 2

Die wyse manne uit die Ooste.

1 EN toeJesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manneuit die Ooste in Jerusalem aangekom

2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons hetsy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.

3 En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;

4 en hy het al die owerpriesters en dieskrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.

5 En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:

6 En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.

7 Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra;

8 en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julleHomvind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.

9 En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.

10 En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.

11 En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bringvir Hom geskenke:goud en wierook enmirre.

12 En omdat hullein ’n droom ’n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hul land teruggegaan.

Die vlug na Egipte. Die kindermoord.

13 EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ’n engel van die Herein ’n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.

14 Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.

15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet:Uit Egipte het Ek my Seun geroep.

16 Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.

17 Toe is vervul wat deurJeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:

18 ’n Stem is inRama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.

Die terugkeer uit Egipte.

19 EN ná die dood van Herodes het daar ’n engel van die Herein ’n droom aan Josef in Egipte verskyn

20 en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.

21 En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.

22 Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het ’n goddelike waarskuwingin ’n droom ontvang enna die streke van Galiléa teruggekeer.

23 En hy het gaan woon in ’n stad met die naam vanNásaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.

MATTHÉÜS 3

Johannes die Doper.

1 IN daardie dae hetJohannes die Doper opgetree enin die woestyn van Judéa

2 gepreek en gesê: Bekeer julle, wantdie koninkryk van die hemele het naby gekom.

3 Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het:Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!

4 En hy, Johannes, het ’n kleed gedravan kameelhare en ’n leergord om sy heupe, en sy voedsel wassprinkane enwilde heuning.

5 En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe.

6 En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes.

7 Maar toe hy baie van die Fariseërs enSadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle:Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?

8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

9 En moenie dink om by julleself te sê:ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.

10 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome.Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

11 Ek doop julle wel met watertot bekering;maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.Hy sal julle doop metdie Heilige Gees en metvuur.

12 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak ensy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

Die doop van Jesus.

13 TOE het Jesusvan Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word.

14 Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?

15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.

16 En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy siendie Gees van God soos ’n duif neerdaal en op Hom kom.

17 En daar kom ’n stem uit die hemele wat sê: Dit is mygeliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.

MATTHÉÜS 4

Die versoeking van Jesus.

1 TOE isJesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.

2 En nadat Hyveertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.

3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.

4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe:Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

5 Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan

6 en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe:Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie.

7 Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe:Jy mag die Here jou God nie versoek nie.

8 Weer neem die duiwel Hom saam na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,

9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.

10 Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe:Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

11 Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar hetengele gekom en Hom gedien.

Jesus in Galiléa. Die eerste dissipels.

12 EN toe Jesus hoor datJohannes in die gevangenis gesit was,het Hy na Galiléa teruggegaan.

13 En Hy hetNásaret verlaat en gaan woonin Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali,

14 sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het:

15 Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene —

16 die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan.

17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê:Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

18 En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simonwat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers.

19 En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.

20 En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg.

21 En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep.

22 En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg.

23 En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan enin hulle sinagoges geleer endie evangelie van die koninkryk verkondig enelke siekte en elke kwaal onder die volk genees.

24 En die gerug aangaande Hom is versprei oor die heleSírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en watvan duiwels besete was,en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak.

25 En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa enDekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.

MATTHÉÜS 5

Die bergpredikasie. Die saligsprekinge.

1 EN toe Hy die skare sien, het Hy op dieberg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom;

2 en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê:

3 Salig is die watarm van gees is, want aanhulle behoort die koninkryk van die hemele.

4 Salig isdie wat treur, want hulle sal vertroos word.

5 Salig isdie sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.

6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

7 Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

8 Salig isdie wat rein van hart is, wanthulle sal God sien.

9 Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

10 Salig isdie wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.

12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; wantso het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.

Bergpredikasie (vervolg). Die sout van die aarde en die lig van die wêreld.

13 JULLE is die sout van die aarde,maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.

14 Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

15 en ’n menssteek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

16 Laat julle lig só skyn voor die mense,dat hulle julle goeie werke kan sien en julleVader wat in die hemele is, verheerlik.

Die bergpredikasie (vervolg). Die vervulling van die wet en die profete.

17 MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.

18 Want voorwaar Ek sê vir julle,voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.

21 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is:Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg.

22 Maar Ek sê vir julle datelkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor dieGroot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.

23 As jy danjou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het,

24 laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.

25 Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie.

26 Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie.

27 Julle het gehoor dat aan diemense van die ou tyd gesê is:Jy mag nie egbreek nie.

28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

29 As jou regteroog jou dan laat struikel,ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

30 En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

31 Daar is ook gesê:Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee.

32 Maar Ek sê vir julle datelkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

33 Verder het julle gehoor dat aan diemense van die ou tyd gesê is:Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou.

34 Maar Ek sê vir julle:Sweer hoegenaamd nie — nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;

35 ook nie by die aarde nie, omdat ditdie voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat ditdie stad is van die groot Koning;

36 ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.

37 Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.

38 Julle het gehoor dat daar gesê is:Oog vir oog en tand vir tand.

39 Maar Ek sê vir julledat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.

40 En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.

41 En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.

42 Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.

43 Julle het gehoor dat daar gesê is:Jy moet jou naaste liefhê enjou vyand moet jy haat.

44 Maar Ek sê vir julle:Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, enbid vir die wat julle beledig en julle vervolg;

45 sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.

46 Wantas julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen dietollenaars nie ook dieselfde nie?

47 En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?

48 Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

MATTHÉÜS 6

Bergpredikasie (vervolg). Liefdadigheid, gebed en vas.

1 PAS op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.

2 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ’n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.

3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

4 sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.

5 En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het.

6 Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien,sal jou in die openbaar vergelde.

7 En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulledeur hul baie woorde verhoor sal word.

8 Moet dan nie soos hulle word nie,want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.

9 Só moet julle dan bid:Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

10 laat u koninkryk kom;laat u wil geskied,soos in die hemel net so ook op die aarde;

11 gee ons vandag ons daaglikse brood;

12 en vergeef ons onsskulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

13 en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos onsvan die Bose.Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

14 Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15 Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

16 Enwanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.

17 Maar jy, as jy vas,salf jou hoof en was jou gesig,

18 sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Bergpredikasie (vervolg). Die skat in die hemel. Die gesonde oog. Die twee here. Die kwelling oor die lewe.

19 MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;

20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;

21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

22 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.

23 Maar as jou oogverkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!

24 Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God énMammon dien nie!

25 Daarom sê Ek vir julle:Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?

26 Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

27 Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel,een el by sy lengte voeg?

28 En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie;

29 en Ek sê vir julle dat selfsSalomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.

30 As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle,kleingelowiges?

31 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

32 Want na al hierdie dinge soek die heidene;want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid,en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

MATTHÉÜS 7

Bergpredikasie (einde). Die oordeel uit die hoogte. Die heilige vir die honde gee. Die aanhoudende gebed. Die nou en die wye poort. Valse profete. Hoor en doen.

1 MOENIE oordeel nie,sodat julle nie geoordeel word nie.

2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word;en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!

5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.

6 Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.

7 Bid, envir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee;

10 en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee?

11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer saljulle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

12 Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen;want dit is die wet en die profete.

13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.

14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.

16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!

17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte.

18 ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.

19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naamduiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

24 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.

25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

26 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.

27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

28 En toe Jesus hierdie woorde geëindig het,was die skare verslae oor sy leer;

29 want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

MATTHÉÜS 8

Die genesing van ’n melaatse.

1 EN toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg;

2 en daar het ’n melaatse man gekom envoor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig.

3 Daarop steek Jesus die hand uit enraak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig.

4 En Jesus sê vir hom:Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawewat Moses voorgeskrywe het, tot ’n getuienis vir hulle.

Die hoofman van Kapérnaüm.

5 EN nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar ’n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom

6 en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne.

7 Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak.

8 En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ’n woord, en my kneg sal gesond word.

9 Want ek is ook ’n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ’n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.

10 Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle,selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie.

11 Maar Ek sê vir julle datbaie sal kom van ooste en weste ensaam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele.

12 Maardie kinders van die koninkryksal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

13 Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur.

Die skoonmoeder van Petrus.

14 EN toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors.

15 En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien.

16 En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, watvan duiwels besete was; en Hy het die geeste met ’n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak,

17 sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het:Hy het ons krankhede op Hom geneem enonssiektes gedra.

Hoe Jesus gevolg moet word.

18 EN toe Jesus groot menigtes rondom Hom sien, het Hy bevel gegee om te vertrek na die oorkant.

19 En’n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan.

20 En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

21 En ’n ander een van sy dissipels het vir Hom gesê: Here, laat my toe om eers te gaan en my vader te begrawe.

22 Maar Jesus sê vir hom: Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe.

Jesus maak die storm stil.

23 EN toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

24 En daar het ’n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap.

25 Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan!

26 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang,kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het ’n groot stilte gekom.

27 En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir ’n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?

Die besetenes van Gádara.

28 EN toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie.

29 En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus,Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?

30 En ver van hulle af het ’n groot trop varke gewei.

31 En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar.

32 En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om.

33 En die wagters het gevlug; en toe hulle in die stad kom, het hulle alles vertel, ook wat met die besetenes gebeur het.

34 En kyk, die hele stad het uitgekom, Jesus tegemoet; en toe hulle Hom sien,smeek hulle dat Hy uit hulle gebied moet weggaan.