JOB 27

Job handhaaf sy onskuld voor God.

1 EN Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:

2 So waar as God leefwat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het —

3 want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus —

4 my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!

5 Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek myonskuld nie prysgee nie.

6 Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie;my hart veroordeel geeneen van my dae nie.

Job maak sy vriende opmerksaam hoe weinig ooreenkoms daar tussen hom en ’n goddelose is.

7 MY vyand moetdusverskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.

8 Want wat is die verwagting van die goddeloseas Hy afsny — as God sy siel wegneem?

9 Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?

10 Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?

Job erken dat die reg van God dikwels geopenbaar word in die ondergang van die goddelose mense; maar dit is nie op hom toepaslik nie, want hy is geen goddelose nie.

11 EK sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.

12 Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan ’n ydele hoop?

13 Dít is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:

14 as sy kinders baie word, is dit virdie swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.

15 Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, ensy weduwees ween nie.

16 As hysilwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder —

17 hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; endie onskuldige verdeel die silwer.

18 Hy het sy huis gebou soos ’n mot en soos ’nskerm wat die oppasser maak.

19 Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en — is nie meer nie.

20 Verskrikkinge oorval hom sooswaterstrome; in die nag voer ’n stormwind hom weg.

21 Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.

22 EnGodwerp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.

23 Hulleklap oor hom in hul hande enspot hom weg uit sy plek.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nine + 3 =